Monday 11 June 2012

Maak seker jou agent het woema

anfpicka 1 laaste
04 Junie 2012

Duisende eiendomsagente het die bedryf die afgelope paar jaar verlaat en die oorblywende agente is nou dikwels besiger as ooit tevore - maar dit beteken nie dat hulle enige huistransaksie net as "roetine" mag beskou nie.  Dit is die mening van Ester Odendaal, bedryfsbestuurder van Aida National Franchises. Sy sê voorts: "Huisverkopers behoort nooit 'n mandaat toe te ken aan 'n agent wat nie regtig geesdriftig is oor die vooruitsig om hul eiendom te bemark nie.

"Huiskopers het deesdae 'n wye verskeidenheid eiendom om uit te kies en 'n agent met woema kan die deurslag in 'n transaksie gee. Aan die ander kant kan agente wat nie alles uithaal om huise waarop hulle alleenmandate hou te verkoop nie verkopers duur te staan kom - en nie net ten opsigte van bykomende houkoste van die eiendom nie." 

Eerstens, sê sy, is daar 'n groot risiko dat 'n huis wat nie uit die staanspoor met geesdrif bemark word nie, "perfekte kopers" wat presies so 'n huis wou koop se aandag gaan ontglip.  "Dit kan ook meebring dat die verkoper die geleentheid misgun word om sy volgende eiendom teen die beste prys te koop en, laastens, bly dit 'n feit dat hoe langer 'n huis in die mark bly, hoe kleiner word die kans dat dit teen die ware waarde daarvan van die hand gesit gaan word."

Volgens die jongste eiendomsaanwyser van ENB duur dit gemiddeld tussen drie en vier maande om eiendom te verkoop maar Odendaal wys daarop dat huise met die regte prys wat goed bemark word in 'n baie korter tyd verkoop word.  "Met dié wete moet voornemende verkopers dus seker maak dat hulle kundige raad inwin wanneer hulle besluit hoeveel om vir hul eiendom te vra en moet agente beslis uitvra oor hoe die eiendom bemark gaan word. En hulle behoort aan te dring dat die bemarkingsplan op skrif gestel word voordat hulle 'n verkoopsmandaat onderteken."

Aida se agente, sê sy, is altyd bereid om besonderhede van hul mees onlangse transaksies en 'n behoorlike bemarkingsplan met besonderhede oor advertensies en skoudae aan kliënte te verskaf.


Uitgereik deur Aida National Franchises

Aida hoofkantoor: 012 682 9600

Skakelpersoon: Ester Odendaal

No comments:

Post a Comment